Ami

Ami

wie is Ami?

Ami is 'n liedjieskrywer en sangeres en saam met multi-instrumentalis en produksie-leier, Etienne Ghyoot, staan hulle nog altyd bekend as Margaret's Daughter. Dié Johannesburg-gebasseerde duo maak al vir ongeveer ses jaar lank saam musiek. Hulle was tot dusver hoofsaaklik as 'n Engelse groep bekend, maar het onlangs besluit om 'n album in hul moedertaal op te neem. Hul debuut Afrikaanse album, In 'n oogwink, vind aanklank by 'n "Adult Contemporary" mark, terwyl dit terselfdertyd modern genoeg is om nie die jongelinge van vandag af te skrik nie :) Die album is oorwegend gevul met luister-liedjies, maar daar is ook snitte waarop 'n mens kan dans! Die lirieke is sinvol en handel dikwels oor die dieper dinge in die lewe, sonder om swaar te wees. Dus, ligte musiek met 'n klein bietjie meer om die lyf, sonder om hoogdrawend te wees. Die projek was oorspronklik bedoel om slegs ‘n EP te wees, maar agv positiewe terugvoer uit diverse oorde, is dit uitgebrei tot ‘n volle 11 snit album. Ami en Etienne het self die produksieleiding hanteer en buiten vir die tromme (waar Andy Maritz weer sy verskeining maak), het hul ook al die instrumente self gespeel.

Die duo pronk met drie Engelse albums en hul musiek verskyn al vir 'n geruime tyd op die speellyste van meeste Suid-Afrikaanse radio stasies, insluitend RSG, East Coast Radio, KFM, OFM.

Hul lewendige optrede is geslyp en verfyn deur honderde optredes regoor Suid-Afrika asook internasionale optredes in Spanje, Engeland, Mexiko en Mosambiek. Die gekoordineerde kitaarspel en indrukwekkende harmonieë wat oor die jare sinoniem geword het met Margaret's Daughter, is duidelik herkenbaar in hul Afrikaanse optredes. Aanhangers van Margaret's Daughter is dus ook mal oor hul Afrikaanse klank. Ami en Etienne het ook al verskeie kere hul verskeining op die verhoë van die volgende nasionale en internasionale feeste gemaak: Splashy Fen, White Mountain Fees, STRAB en FORR (Mosambiek), en Zihuatanejo International Guitar Festival (Mexiko). Individueel het hulle ook al by KKNK, Aardklop, UKkasie (Engeland) en Eurokasie (Nederland) opgetree. Vir groter vertonings inkorporeer hulle ander musikante soos benodig.

Maak nie saak in watter taal hulle sing, of in watter formaat hulle optree nie, een ding bly konstant: Ami se tydlose liedjies en kenmerkende stem, begelei deur haar ritmiese akoestiese kitaar.

bly op hoogte

Bly op hoogte met optredes en ander interessante nuus.

klik hier